Dakterras


'n Dakterras is die ingerigte ruimte bo-op 'n plat dak of 'n plat gedeelte van 'n dak (soos bo-op 'n motorhuis) wat in die opelug vir tuinmaak of as 'n ontspanningsterrein geskik is. 'n Dakterras is dus nie 'n uitsteeksel van 'n gebou soos 'n balkon nie. 'n Dakterras het ook gewoonlik geen dak nie.
Voordele en nadele
[wysig | wysig bron]Die dakterras kom veral tot sy reg in digbevolkte en digbeboude stede waar die aanlê van grasperke, tuine of parke aan die skraal kant is. Met mooiweer bied die dakterras van 'n woning (of woonstel) byna doodse stilte, soms tot 360º-uitsig oor die stad, 'n onbelemmerde uitsig op die sterrehemel, volop son en, bowenal, privaatheid, weg van die rumoer benede.[1] Maar helaas nie van die natuurlewe, met name voëls, nie. Ook is mens nie gevrywaar van muskiete nie, soos reeds te sien by die daktuine in New York van 1901.[2]
Natuurlik is hierdie stukkie paradys in die kleine aan die elemente uitgelewer. Die vloerbedekking van die loopvlak is aan wind en weer (ook UV-strale) blootgestel en verdien ekstra sorg en aandag. Die duursaamste materiaalkeuse is aan te beveel.[1] Ook moet hetsy die boumateriaal lig genoeg wees (soos 'n houtdek wat met verloop van tyd sal verbleik), hetsy die draagkonstruksie sterk genoeg wees om hierdie ekstra gewig te kan dra. 'n Regte grasperk is hopeloos te swaar (en onprakties) en 'n lappie kunsgras is veel beter.[1]
Sonder byna 'n druppel skadu is die temperatuur tot 5ºC warmer op die dak as op die grond. Die sagte suisende briesie onder kan hoër op in 'n tierende stormwind ontaard; rukwinde kan die ligte plastiekstoele en -tafel skep. Juis weens hierdie volop wind en son verdamp die water vinniger vir dakplante. Ook hoërige plante (soos boomaalwyne in potte geplant) groei windskeef.[1]
Swaar blombakke en swaar fokuspunte word dikwels op die grense van die ontwerp geplaas (dus, op die mure). Hierdie blombakke moet dan stewig geanker of ingebou wees, anders beteken dit 'n voetganger se dood. Waterfonteintjies moet liefs kettings gebruik waarteen die water kan afdrup.[1]
Benewens meubels wat buite staan en sal natreën, is waterdigting van kardinale belang; die reënwater kan in elke hoekie en krakie deursyfer. Klam kolle slaan dan op die mees ongeleë plekke uit. Die reënwater kan egter op 'n slim wyse opgevang en vir latere gebruik geberg word.[1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- 1 2 3 4 5 6 Celliers, A. & Visser, T. 2010. Tuinmaak met eiegoed. Kaapstad: Metz Press, pp. 32-37
- ↑ Het Advertentieblad. 1901. Gemengd Nieuws. 21 September, p.3: DE DAKTUINEN. — In de heete zomermaanden zijn de zoogenaamden "roofgardens" (daktuinen) te New York altijd druk bezocht, maar deze zomer maakten zij slechte zaken. Het was des avonds te New York dit jaar te warm. De gevels der huizen straalden een gloed af, de verzengende dampkring, gevuld met muskieten, maakten de roofgardens onbezocht. Bovendien waren de prijzen der Ferrybooten en trams des 's avonds na 7 uur verlaagd, zoodat voor een paar centen de verschillende badplaatsen bereikt konden worden. Vele eigenaars van roofgardens hebben duizenden dollars schade dezen zomer.