Portaal:Suid-Afrika
|
Suid-Afrika, amptelik die Republiek van Suid-Afrika, is 'n republiek aan die suidpunt van Afrika. Dit grens in die noorde aan Namibië (1 005 km grens), Botswana (1 969 km grens) en Zimbabwe (230 km grens), en in die noordooste aan Mosambiek (496 km grens) en Eswatini (438 km grens). Lesotho (1 106 km grens) vorm 'n enklawe binne die grense van Suid-Afrika. Suid-Afrika is een van die mees etnies diverse lande in Afrika. Die land het meer Europese immigrante ontvang as enige ander land in Afrika en het die hoogste bevolking van Europese, Indiese en gemengde afkoms. Rasse- en etniese stryd was nog altyd 'n groot deel van die geskiedenis en politiek van die land. 'n Ander belangrike faktor in die ontwikkeling van die land is die ryk mineraalbronne waaroor die land beskik. Die land se ekonomie is die grootste en mees ontwikkelde op die kontinent met moderne infrastruktuur oor die hele land. Suid-Afrika is 'n lidland van die Afrika-unie, Gemeenskaplike Monetêre Gebied, Suider-Afrikaanse Doeane-unie, Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, Britse Statebond en die Verenigde Nasies. Daarbenewens is Suid-Afrika die enigste Afrikaland van die Groep van 20 en het in 2010 by BRIC aangesluit, wat vervolgens BRICS geword het. Rassekonflik tussen die wit minderheid en die swart meerderheid het die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek lank oorheers. Die tema het 'n hoogtepunt bereik met die apartheidsbewind tussen 1948 en die negentien-negentigs. Nadat die Nasionale Party na die verkiesing van 1948 aan bewind gekom het, is verskeie stelsels ingestel gegrond op eie rasse-ontwikkeling. Wette wat suiwer op eie rasse-ontwikkeling gegrond is, is vanaf 1990 afgeskaf na 'n lang en soms gewelddadige stryd teen apartheid waarin swart mense die leiding geneem het. Wit, Bruin en Indiër-Suid-Afrikaners het egter ook deelgeneem en buitelandse druk was 'n belangrike faktor in die uiteindelike aftakeling van apartheid. Die dramatiese verandering in die politieke stelsel is egter op die ou einde op wonderbaarlike wyse relatief vreedsaam bewerkstellig. Suid-Afrika is een van die min lande in Afrika (en die res van die ontwikkelende lande) wat nie 'n staatsgreep ondergaan het nie. Die veelpartysamesprekings, waarvolgens die nuwe Suid-Afrika in plek gestel is, het gelei tot die ontwikkeling van die Grondwet van Suid-Afrika met stewige beskerming van menseregte. Vandag word daar gereeld na Suid-Afrika as die Reënboognasie verwys – 'n term wat aanvanklik deur Aartsbiskop Desmond Tutu bedink is en later op uitgebrei is deur die toenmalige president Nelson Mandela – as 'n metafoor vir die land se nuutgevonde multikulturele diversiteit na die beëindiging van die skeiding wat deur die apartheidsideologie meegebring is. Suid-Afrika is die eerste, en sover enigste, land wat kernwapens ontwikkel het en daarna vrywillig sy hele kernwapenprogram ontbind het. bewerk
Gekose panorama
<div style="text-align:center;Johannesburg CBD in die oggend
bewerk Gekose artikel
Die Nasionale Krugerwildtuin is die grootste wildreservaat in Suid-Afrika, en 'n trekpleister vir internasionale en plaaslike toeriste. Die park strek ongeveer 360 kilometer van noord na suid en gemiddeld 65 kilometer van oos na wes. Die park grens in die ooste aan Mosambiek en in die noorde aan Zimbabwe. Die park strek oor die Laeveld van twee Suid-Afrikaanse provinsies, Mpumalanga en Limpopo.
Die Krugerwildtuin maak nou deel uit van die Groter Limpopo Oorgrenspark, 'n vredespark wat die Krugerwildtuin kombineer met twee nasionale parke in sy buurlande: die Gonarezhou Nasionale Park in Zimbabwe, en die Limpopo Nasionale Park in Mosambiek. Meer as 'n miljoen toeriste besoek die Krugerwildtuin elke jaar. Die park bevat ongeveer 2 000 plant-, 507 voël-, 147 soogdier-, 114 reptiel-, en 49 visspesies. Die sogenaamde Groot Vyf soogdiere kan in die park gesien word, naamlik die leeu, olifant, renoster, buffel, en luiperd. bewerk Gekose beeldDie Afrikaanse Taalmonument is 'n monument wat aan die Afrikaanse taal gewy is. Hierdie monument staan ook bekend as die Tweede Taalmonument. Die Eerste Taalmonument is opgerig te Burgersdorp in 1893. bewerk Gekose biografie
Adv. Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom (plaas Sandvlakte, distrik Willowmore, Kaapkolonie, 14 Julie 1893 – Kaapstad, Suid-Afrika, 24 Augustus 1958) was Suid-Afrika se vyfde eerste minister en die derde premier wat behoort het tot die Nasionale Party ná genl. J.B.M. Hertzog (1924–1938) en dr. D.F. Malan (1948–1954). Hy was, ná genl. Louis Botha, premier van 1910 tot 1919, die tweede eerste minister wat in die amp oorlede is. Die derde en enigste ander was dr. Hendrik Verwoerd, Strijdom se opvolger.
Sy tweede vrou, Susan, het in 1973 van hom gesê: "Daar was iets vreemd gedistingeerds in Hans Strijdom. Hy was in hart en siel 'n volksmens, maar uit die skares wat hom op die hande gedra het, het niemand hom ooit familiêr op die skouers geklop met 'n gemeensame "dag, ou Hans!" nie. Hy was vir almal wel Hans Strijdom, maar in 'n mistieke hoogagting, wat geen familiariteit geken het nie." Van al Suid-Afrika se premiers tussen 1910 en 1961 was die "Leeu van die Noorde" moontlik die vurigste republikein. Al het hy nie lank genoeg geleef om republiekwording in 1961 te beleef nie, het hy belangrike simboliese voorbereidings vir dié staatkundige verandering getref. Hy was 'n harde politieke werker wat, volgens sy tydgenote, hom doodgewerk het. Sommige waarnemers het hom ná sy dood as 'n Bybelse Moses beskryf wat die beloofde land ('n republiek) kon sien, maar nie binne kon gaan nie. bewerk Museums en momumentebewerk
Kategorieë
| ||||||||||||||||||||||||||||||||



