Postcards from the Edge
| Postcards from the Edge | |
|---|---|
| Regisseur | Mike Nichols |
| Vervaardiger |
|
| Draaiboek | Carrie Fisher |
| Geskoei op | Postcards from the Edge deur Carrie Fisher |
| Met | |
| Musiek deur | Carly Simon |
| Kinematografie | Michael Ballhaus |
| Ateljee | Columbia Pictures |
| Uitgereik | 14 September 1990 |
| Speeltyd | 101 minute |
| Land | VSA |
| Taal | Engels |
| IMDb-profiel | |
Postcards from the Edge is 'n Amerikaanse komediedrama van 1990 wat deur Mike Nichols geregisseer is. Die draaiboek deur Carrie Fisher is geskoei op haar halfoutobiografiese roman van 1986 met dieselfde naam. Die hoofakteurs is Meryl Streep, Shirley MacLaine, Dennis Quaid en Gene Hackman.
Rolverdeling
[wysig | wysig bron]- Meryl Streep as Suzanne Vale
- Shirley MacLaine as Doris Mann[1]
- Dennis Quaid as Jack Faulkner
- Gene Hackman as Lowell Kolchek
- Richard Dreyfuss as dr. Frankenthal
- Rob Reiner as Joe Pierce
- Mary Wickes as Grandma
- Conrad Bain as Grandpa
- Annette Bening as Evelyn Ames
- Gary Morton as Marty Wiener
- CCH Pounder as Julie Marsden
- Robin Bartlett as Aretha
- Barbara Garrick as Carol
- Anthony Heald as George Lazan
- Oliver Platt as Neil Bleene
- Michael Ontkean as Robert Munch
Storielyn
[wysig | wysig bron]Bederwingswaarskuwing: Die storielyn en/of storie se einde volg hieronder.
Ná ’n dwelmoordosis word die aktrise Suzanne Vale op aandrang van haar ma, die veteraanaktrise Doris Mann, in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Suzanne moet haar toneelloopbaan en lewe herbou nadat sy ’n verslawing aan onder meer kokaïen oorkom het. Toe Suzanne gereed is om terug te keer werk toe, lig haar agent haar in dat die ateljee se versekeringspolis haar slegs sal dek indien sy saam met ’n “verantwoordelike” persoon woon – soos haar ma. Suzanne is egter huiwerig om terug te keer na haar manipulerende, selfgesentreerde ma, uit wie se skadu sy sedert haar kinderdae probeer ontsnap.
Die vervaardiger Jack Faulkner, wat Suzanne tydens haar laaste oordosis hospitaal toe geneem het, loop haar op die stel raak en verklaar sy liefde vir haar. Hulle gaan op ’n afspraak, maar Suzanne se euforie is van korte duur toe sy ontdek Jack slaap ook met ’n ander aktrise. Intussen het haar gladde sakebestuurder met al haar geld verdwyn. Te midde van hierdie probleme hoor Suzanne dat die paternalistiese regisseur Lowell Kolchek meer werk vir haar het solank sy nugter bly.
Suzanne se probleme vererger toe sy uitvind haar ma het dronk bestuur en 'n ongeluk gemaak. Sy haas haar na die hospitaal en hulle voer ’n eerlike gesprek terwyl Suzanne haar grimering regmaak en haar byna kaal kop met ’n serp bedek. Doris skraap haar moed bymekaar en trotseer die wagtende media. Intussen loop Suzanne dr. Frankenthal raak, wat haar ná haar laaste oordosis gehelp het, en hy nooi haar om saam met hom ’n rolprent te gaan kyk. Suzanne wys die aanbod van die hand en sê sy is nog nie gereed om uit te gaan nie, maar dr. Frankenthal sê hy is bereid om te wag.
Aan die einde van die prent sing Suzanne ’n countryliedjie tydens die verfilming van Lowell Kolchek se jongste rolprent.
Ontvangs
[wysig | wysig bron]Die rolprent het op 14 September 1990 in 1 013 teaters in die VSA en Kanada begin draai en $7 871 856 in sy openingsnaweek verdien, waarmee dit die nommer 1-posisie by die Amerikaanse loket behaal het.[2] Dit het uiteindelik wêreldwyd $63,4 miljoen verdien.[3]
Op Rotten Tomatoes het dit ’n goedkeuringsyfer van 83% gekry op grond van 87 resensies, met ’n gemiddelde punt van 7,4/10. Die webtuiste se konsensus lui: “Deur ’n paar kragtige talente met ’n slim, skerpsinnige draaiboek te verenig skep Postcards from the Edge aangrypende drama uit trauma wat deur die werklikheid geïnspireer is.”[4] Op Metacritic het die rolprent ’n gemiddelde punt van 71 uit 100 gekry op grond van 18 resensies, wat dui op 'n “algemeen gunstige” ontvangs.[5]
Vincent Canby van The New York Times het gesê die rolprent “blyk ’n besonder aangename samewerking tussen die draaiboekskrywer en die regisseur te gewees het, met Fisher se verhaal van eienaardige ellende as die perfekte materiaal vir Nichols se besondere vermoë om die menslike gevoeligheid binne die absurde raak te sien”.[6]
Roger Ebert van die Chicago Sun-Times het opgemerk: “Wat teleurstellend van die prent is, is dat dit nooit werklik daarin slaag om die onderwerp van herstel van verslawing te behandel nie. Daar is ’n paar onvolledige, vaag waargenome, onontwikkelde tonele in die rehabilitasiesentrum, en daarna lustelose gesprekke oor AA-vergaderings buite beeld. Maar die rolprent is behep met skinderpraatjies; ons word aangemoedig om te wonder hoeveel ooreenkomste daar tussen Streep en MacLaine en hulle oorspronklike karakters, Fisher en Debbie Reynolds, bestaan ... Postcards from the Edge bevat te veel goeie skryfwerk en te veel goeie vertolkings om ’n mislukking te wees, maar sy hart is nie op die regte plek nie.”[7]
Pryse en benoemings
[wysig | wysig bron]Postcards from the Edge is vir twee Oscarss, drie Golden Globes en baie ander pryse benoem. Streep het 'n American Comedy Award gewen vir beste aktrise en Bening 'n London Film Critics' Circle Award vir beste nuweling van die jaar.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Reynolds, Debbie; Hannaway, Dorian (2013). "Postcards from My Daughter". Unsinkable: A Memoir. New York: William Morrow. p. 20. ISBN 978-0-06-221365-5.
- ↑ Broeske, Pat H. (17 September 1990). "Postcards Takes No. 1 at Box Office Movies: Mother-daughter comedy sales hit $8.1 million. Paramount's 'Ghost' is in second place on $5.8 million in sales". Los Angeles Times. Besoek op 1 Januarie 2011.
- ↑ Frook, John Evan (26 Junie 1992). "Col TriStar tide rising overseas". Daily Variety. p. 1.
- ↑ "Postcards from the Edge". Rotten Tomatoes. Besoek op 5 Mei 2024.
- ↑ "Postcards from the Edge". Metacritic.
- ↑ Canby, Vincent (12 September 1990). "Review/Film; Down and Out at the Top in Hollywood". The New York Times. Besoek op 5 Mei 2024.
- ↑ Ebert, Roger (12 September 1990). "Postcards from the Edge". Chicago Sun-Times. Besoek op 31 Oktober 2011 – via RogerEbert.com.
Skakels
[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.