Gaan na inhoud

Portaal:Krieket

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Wikipedia-portale: Antieke Egipte · Biologie · Chemie · Fisika · Geografie · Geologie · Geskiedenis · Griekse mitologie · Katte · Krieket · Letterkunde · Musiek · Rugby · Rusland · Skryfstelsels · Sport · Sterrekunde · Tale · Turkye · Vlae en wapens

Krieketwedstryd Donald Bradman Lord’s-krieketveld Krieketbal Brian Lara


Welkom by Wikipedia se portaal vir krieket. Krieket is ’n boul-en-kolf-sport gespeel tussen twee spanne van elf spelers elk op ’n krieketveld in die middel van ’n 22-jaart-kolfblad (20 meter) met ’n paaltjie aan elke kant bestaande uit twee dwarsbalkies op drie paaltjies. Die wedstryd vorder wanneer ’n speler, die bouler genoem, van die span wat veldwerk doen die bal wettig van die een kant van die kolfblad na die ander kant na die paaltjies boul, met ’n boulbeurt wat klaar is sodra hulle ses wettige balle afgestuur het. Die kolfspan het ’n speler by elke kant van die kolfblad, met die speler oorkant die paaltjies van die bouler wat probeer om die bal van die bouler met sy kolf te slaan. Die kolfspan teken lopies aan wanneer die bouler die bal onwettig na die kolwer boul, die bal die veldgrens raak of wanneer die twee kolwers tussen die twee paaltjies hardloop, gelykstaande aan een lopie. Die veldwerkspan probeer om die aantal lopies te beperk en elke kolwer uit te skakel (hulle is “uit”, hulle het hul paaltjies verloor). Maniere van uitskakeling sluit in uitgeboul, wanneer die geboulde bal die paaltjies raak en die dwarsbalkies afval, en vir die veldwerkspan deur die vang van ’n geslane bal voordat dit die grond raak, of om ’n paaltjie met die bal te tref voordat ’n kolwer sy kolfkampie voor die paaltjie bereik en ’n lopie aanteken. Wanneer tien kolwers uitgehaal is, eindig die kolfbeurt en die spanne verander van rolle. Die wedstryd word deur twee skeidsregters beheer, ondersteun deur ’n derde skeidsregter en ’n wedstrydbeampte in internasionale wedstryde.

Uitgesoekte artikel

Kenteken van die Kampioenetrofee 2025.

Die Kampioenetrofee 2025 (Arabies: كأس أبطال المجلس الدولي للكريكيت 2025; Engels: 2025 ICC Champions Trophy; Oerdoe: 2025ء آئی سی سی چیمپئنز ٹرافی) is van 19 Februarie tot 9 Maart 2025 in Pakistan en, vanweë Indië se boikot van Pakistan, die Verenigde Arabiese Emirate beslis. Dit was die negende Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste vir albei gashere. Die medegasheer Pakistan was ook die verdedigende kampioen, nadat hulle die vorige Kampioenetrofee 2017 gewen het. Die Kampioenetrofee 2025 het agt jaar ná die vorige toernooi plaasgevind, die langste pouse tussen twee internasionale kriekettoernooie in dié tyd. Die oorspronklik beplande 2021-toernooi is met die T20I-wêreldbeker 2021 vervang. Dit was ná die T20I-wêreldbeker 2021, wat saam met Oman aangebied is, en die T20I-vrouewêreldbeker 2024 die derde vername kriekettoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate.

Die toernooi se formaat van 2009, 2013 en 2017 het onveranderd gebly en die gasheer Pakistan het saam met die sewe beste nasionale spanne van die Krieketwêreldbeker 2023 aan die Kampioenetrofee 2025 deelgeneem: Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Tydens die Kampioenetrofee 2025 is 15 wedstryde gespeel, waaronder twaalf tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.

Australië, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Australië geklop en Nieu-Seeland vir Suid-Afrika, waardeur Indië en Nieu-Seeland mekaar in die eindstryd herontmoet het. In die eindstryd op die Doebai Internasionale Krieketstadion in Doebai het Indië Nieu-Seeland met vier paaltjies verslaan en sodoende sy derde Kampioenetrofeetitel gewen. Saam met hul oorwinnings tydens die krieketwêreldbekertoernooie in 1983 en 2011, die T20I-wêreldbekertoernooie in 2007 en 2024, asook die Kampioenetrofeë in 2002 (gedeel met Sri Lanka) en 2017 was dit Indië se sewende internasionale kriekettitel. Die medegasheer en verdedigende kampioen Pakistan is reeds in die groepfase uitgeskakel. Doebai het ná die T20I-wêreldbeker 2021- en die T20I-vrouewêreldbeker 2024-eindstryd die derde eindstryd van ’n vername IKR-toernooi gehuisves, waarmee dit die eerste stad in ’n assosiaatlid van die IKR geword het wat drie vername krieketeindstryde gehuisves het.

Die Kampioenetrofee 2025 was die mees gesiene Kampioenetrofee in dié tyd en het die vorige 2017-toernooi se rekord met 19 persent oortref. Dit het ook die Krieketwêreldbeker 2023 se aantal televisiekykers met 23 persent oortref.

...lees verder

Voorbladartikels

Algemeen

In nasionale en internasionale krieket is daar drie spelvorme wat verskil in speellengte.

Die tradisionele vorm is Eersterangse krieket wat oor twee kolfbeurte oor ’n aantal dae gespeel word. Op internasionale vlak word dié spelvorm deur die twaalf volle lede van die beheerliggaam Internasionale Krieketraad as toetskrieket beslis. Dit word veral tydens internasionale toere deur hierdie volle lede saam met ander spelvorme gespeel. Sedert 2019 word in hierdie spelvorm die Wêreldtoetskampioenskap beslis.

Sedert 1963 word eendaagse wedstryde gespeel, genoem A-lys-krieket. Elke span speel een kolfbeurt wat meestal uit 50 boulbeurte bestaan. As die IKR aan die nasionale span ’n bepaalde kwaliteit toeken, mag hulle in Internasionale eendagwedstryde (EDIs) speel. Sedert 1975 word in hierdie spelvorm krieketwêreldbekertoernooie beslis (vir vroue sedert 1973 die vrouekrieketwêreldbeker). ’n Ander belangrike toernooi in hierdie spelvorm is die Kampioenetrofee.

In 2003 is die nuutste spelvorm Twintig20 ingevoer. Soos in EDI-krieket word een spelafdeling beslis wat uit 20 boulbeurte per span bestaan. Sedert 2007 word in hierdie spelvorm T20I-wêreldbekertoernooie beslis (vir vroue sedert 2009 die T20I-vrouewêreldbeker).

Aanhalings

Cricket owes much of its appeal and enjoyment to the fact that it should be played not only according to the Laws, but also within the Spirit of Cricket.
— Laws of Cricket

Uitgesoekte beeld

’n Krieketwedstryd met spelers van die krieketklub in Padangpark met die Marina Bays Sands Hotel op die agtergrond, soos gesien van die Singapoerse Nasionale Galery.

’n Krieketwedstryd met spelers van die krieketklub in Padangpark met die Marina Bays Sands Hotel op die agtergrond, soos gesien van die Singapoerse Nasionale Galery.

Krieketnuus

Die T20I-vrouewêreldbekertrofee waarom meegeding word
Die T20I-vrouewêreldbekertrofee waarom meegeding word

Het u geweet...

... dat die vyf gewildste televisie-uitsendings almal sportprogramme is? Die Olimpiese Somerspele, Sokker-Wêreldbekertoernooie, Krieketwêreldbekertoernooie, Rugbywêreldbekertoernooie en Formule Een is die vyf programme wat die grootste kykertalle lok.

... dat die Namibiër Rudie van Vuuren die eerste (en enigste) man is wat in dieselfde jaar in twee sportsoorte, krieket en rugby, aan ’n wêreldbekertoernooi deelgeneem het? Hy het sy land tydens beide die Krieketwêreldbeker 2003 en die Rugbywêreldbeker 2003 verteenwoordig.

... dat daar in toetskrieket sedert 1877 slegs twee gelykopuitslae was en die Australiese nasionale span in albei gespeel het?

Uitgesoekte span

Kenteken van die Duitse nasionale krieketspan.

Die Duitse nasionale krieketspan (Duits: Deutsche Cricket-Nationalmannschaft) is die nasionale krieketspan wat Duitsland in internasionale krieket verteenwoordig. Hulle word bestuur deur die Duitse Krieketbond (DCB, van Duits: Deutscher Cricket Bund) en het in 1991 ’n geaffilieerde en in 1999 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword. Die nasionale span het sy internasionale verskyning in 1989 as Wes-Duitsland teen Denemarke gemaak. Sedertdien het hulle gereeld aan Europese Krieketkampioenskapstoernooie deelgeneem en ook twee keer aan die Wêreldkrieketliga se laer afdelings. In 2001 het Duitsland vir die eerste en enigste keer ook aan die IKR-trofee deelgeneem (nou die Krieketwêreldbekerkwalifisering). In 2022 het hulle vir die eerste keer aan die T20I-wêreldbekerkwalifisering deelgeneem.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Duitsland ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel, as ’n volle T20I erken. Duitsland is tans (Mei 2025) 35ste op die Twintig20-wêreldranglys.

...lees verder

Krieket in hierdie jaar

Die T20I-wêreldbeker is in 2026 beslis

Krieket in 2026 – van die hoogtepunte sluit in die Wêreldtoetskampioenskap, die o/19-krieketwêreldbeker, die T20I-wêreldbeker 2026, die T20I-vrouewêreldbeker 2026 en die T20I-wêreldbeker 2028-kwalifisering.

Verwante portale

Beheerliggame

Spanne

Toernooie

Kategorieë